Ontmoeting bo-op die berg

001-combined

11 days that will transform you life
A pilgrimage on dusty roads  through spectacular landscapes. The sun paints artistic shades on sandstone mountainsides. The wind carries a strange freshness in the air. The Maluti mountains boast their splendour. The African soil under your feet reminds of a journey deep within.
Let your heart and mind find its resting place in God. Read more

Twee geweerskote klap soos weerlig deur die maanlose middernagstilte.

Met opgehoue asem rits ek my tentdeur saggies oop. Ek sien die frisgeboude silhoeët van ’n man wat agter om die voertuig in my rigting kom. Dis skaars dertig meter en die terrein is redelik oop.

Ek hoor Marius uit sy tent praat: “Ek hoor hulle soek na ons.”

Voor ek nog kon dink staan ek regop en skyn my flits met ’n uitgestrekte arm op myself. Ek identifiseer myself met ’n harde roep en stap na waar die stem bulder ek in die lig van die bakkie moet gaan staan. Sy houding is aggressief en die staal van die vuurwapen reg op my gerig, maak die atmosfeer ysig koud … “Waar’s die ander een?” bulder hy dit op die bergtop uit.

Die berg se verspoelde pad, waarteen ek en Marius die middag steierend met ons laaste krag moes opsukkel, was onbegaanbaar. Dat ons dit tot bo gemaak het was ’n wonderwerk, maar dat die 4X4-bakkie dit ook tot bo kon maak, was nog ’n groter een.

Die rede vir ons opstap was om met ons eie en ons vriende se laste te kom deel. Die Woord sê mos “Dra mekaar se laste” (Gal 6:2). Die laste of juk wat ons wou help dra, was veral vir die manne uit die grensoorlog. Hulle wat nog steeds, na soveel jare, vragte vol pyn en seer in hulle gemoed saamdra. Vragte wat vir sommiges te swaar word om nog langer te wil of te kan dra.

Beide van ons se rugsakke was swaar gelaai en ons het dit simbolies, ook as jou las, gedra …

Voordat ons hier teen die hoë berg in die middel van die land, in die genadelose son, kon opstap, moes ons eers vir ’n uur-en-’n-half met ’n opblaasboot oor die Vanderkloofdam roei.

Die grensoorlog het baie jong mans in hulle lewens oor ’n kloof geneem. Hulle het van die oorlog af huis toe gekom, maar baie het dit nooit weer oor die kloof terug gemaak nie.

Die roei was swaar gewees en ons het dit simbolies, ook as jou las, oor die dam in die kloof gedoen …

Tydens ’n lang gebedstaptog, verlede jaar, van Rundu na Otjiwarongo het heelparty oud-soldate my gevra of daar nie ’n manier is hoe hulle saam met my kan stap nie.

Ek het ’n roete in die Karoo begin beplan en gebid oor veilige oorslaapplekke langs ’n spesiale roete waar oud-soldate dan saam met my kan stap.

Uit die bloute ontvang ek eendag ’n oproep van ’n boer op ’n plaas in die Karoo wat aanbied dat ek hierdie staptogte op sy plaas kan doen. Die roei en bergstap het nuwe lewe in dié avontuur geblaas. Die planne het begin vorm aanneem en ek het ’n vriend genooi om die eerste staptog in die middel van die land saam met my aan te pak.

Ons het geroei van die walle van die Noord-Kaap en aan die oorkant vasgemeer in die Vrystaat Provinsie … ons het gestap van onder in die vallei tot bo-op die berg … en bowe-al het ons gebid!

Ons het namens vele vriende wat ons ken, of van weet, by die naam gebid. Die gebed was dat die laste wat hulle nog so onnodig dra, soos die swaar sakke wat ons gedra het, bo-op die berg neergelê word by die voete van Jesus.

Daar het ons getuies geword dat die son vir die laaste maal oor daardie jukke en laste sou sak. Wanneer die nuwe dag aanbreek, is dit ’n nuwe dag. Meer as net die opgaande son, is Jesus die opgaande Lig van Lukas 1:78-79: “deur die innige barmhartigheid van onse God waarmee die opgaande Lig uit die hoogte ons besoek het, om te skyn oor die wat in duisternis en doodskaduwee sit, om ons voete na die pad van vrede te rig.”

Ons het ons tente opgeslaan en daar op die berg ’n Goddelike ontmoeting ervaar. Ons het Sy teenwoordigheid tasbaar gevoel en nuwe verstaan gekry van die “vrees van God”. Ek kan dit net beskryf as ’n “heilige ontsag”.

Ons missie op die berg was volbring. Nou kon ons braai! Ons het juis ook ’n vleisie teen die steiltes opgedra.

Die droë houte wat ons op die berg bymekaar gemaak het, het ’n massiewe vuur gemaak. Ons het gebraai en moeg-moeg gaan inkruip vir ’n welverdiende slaap.

Iemand het van oorkant die dam ons lig en vuur bo-op die berg opgemerk en alarm gemaak omdat hy gedink het dat hy deur sy teleskoop veediewe gesien het!

Die eienaar van die plaas, wat naby die volgende dorp woon het sy wapen gegryp en kom ondersoek instel. Hy moes die lang afstand per pad en toe ook die onbegaanbare pad met sy 4X4-voertuig uitry tot bo-op die berg.

Hy het telefonies by die man oorkant die dorp aanwysings gekry soos wat hy in die donker gery het. Die man het sy ligte gevolg en beduie na waar ons teen die tyd alreeds in ons tente gelê en slaap het. Hy het ons posisie volgens die sterre wat agter die bergtop was bepaal. Na ’n beduiery oor en weer oor die foon het hy uiteindelik vir die eienaar gesê dat hy so 30 meter van die plek was waar hy vroeër die ligte gesien het.

Ek het nie geweet of ek my hande in die lug moes opsteek en of ek maar die flits kon afskakel waarmee ek myself so vir die man verlig het nie. Hy het weer gebulder dat die ander een moet uitkom terwyl hy self naderstap. Die volgende oomblik laat sak hy die wapen en skree met ’n Vrystaatse warm in sy stem, en ek hoor hom my naam roep: “P-e-e-e-e-t!!”

Die eienaar is ook die pastoor van die kerk in Petrusville. Ek het net oor ’n week vantevore by hom toestemming gekry om hierdie bergstap en damroei te doen. Hy het nie verwag dat ons daardie aand bo-op die berg sou oorslaap nie.

Ons drie het daar op die berg saam kerk gehou en gebid. Dit was ’n soet oomblik en ek het lank nadat hy weer gery het, nog wakker gelê en God se asembenemend grootheid bedink.

Eers toe ek terug die huis was, het ek gesien dat iemand vir my ’n boodskap gestuur het. Dit was ’n boodskap van hoop en bemoediging vir elke oud-soldaat wie se kop nog vasgevang is in die kloue van die oorlog:

“Dan sal jou lig deurbreek soos die daeraad en jou genesing skielik uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou uitgaan, die heerlikheid van die HERE sal jou agterhoede wees.” (Jes 58:8)

Wanneer kom stap jy saam?

 

Facebook Comments

Post navigation

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *